Teken & krabbel
- anjoretbba
- Dec 20, 2025
- 2 min read
Hoekom is dit belangrik?
Teken en krabbel is nie net prettige aktiwiteite vir kleuters nie, dit speel 'n belangrike rol in hul ontwikkeling. Wanneer kinders van kleins af begin om te krabbel, ontwikkel hulle belangrike vaardighede wat hulle later sal help met skryf, lees en selfs konsentrasie.

Vanaf baba-tyd leer kinders hoe om hul hande en vingers te gebruik: dit staan bekend as fynspierontwikkeling. Hierdie klein spiere is nodig om potlode, eetgerei en selfs skoenveters behoorlik te hanteer. Krabbel help om hierdie spiere te versterk en gee kinders ook selfvertroue om hul idees visueel uit te druk.
Vir ’n ouer lyk dit dalk net soos ’n klomp lyne en sirkelkies op papier… maar daardie krabbels is goud werd! Teken en krabbel is een van die eerste maniere waarop jou kind hul wêreld begin verken en uitdruk.
Dis nie net kreatiewe pret nie dis ook goeie brein- en spieroefening!
Wanneer ’n kind teken of krabbel:
Leer hulle beplan, dink en fokus.
Oefen hulle die klein spiere in hul hande.
Gebruik hulle hul verbeelding en kreatiewe denke.
Druk hulle emosies uit sonder om ’n woord te sê!
Skep ’n kreatiewe hoekie
Sit ’n tafeltjie op met papier, potlode, kryte en kleurpenne. Laat hulle self besluit wat om te teken!
Teken saam!
Vra: “Wat teken jy daar?” of “Kan jy vir my ’n huis met twee vensters teken?” dis ’n wonderlike manier om gesels en leer te kombineer.

Hoe ontwikkel potlood en kryt vashou
Elke kind ontwikkel teen sy eie tempo, maar daar is algemene riglyne wat ouers kan help verstaan hoe kinders ’n kryt of potlood vashou en watter tipe tekeninge jy op verskillende ouderdomme kan verwag.
Onder 1 jaar
Hoe hou hulle vas: Met die hele hand (palmgreep). Die beweging kom uit die skouer en arm.
Wat teken hulle: Geen doelbewuste tekeninge nie, dalk net merke as hulle per ongeluk ’n kryt vashou.
Wat leer hulle: Om voorwerpe vas te hou, los te laat en hand-oog-koördinasie te ontwikkel.
1 tot 2 jaar
Hoe hou hulle vas: Steeds ’n hele-hand greep, soms met albei hande.
Wat teken hulle: Groot, los krabbels en lyne: op en af of heen en weer.
Wat leer hulle: Oorsaak en gevolg (“As ek beweeg, maak ek ’n merk”).
2 tot 3 jaar
Hoe hou hulle vas: Begin oorskakel na ’n meer beheerde greep.
Wat teken hulle: Sirkelvorms, kronkels en soms kolletjies.
Wat leer hulle: Beheer oor beweging, begin vorms herken en herhaal.
3 tot 4 jaar
Hoe hou hulle vas: ’n Meer verfynde greep: nog nie perfek nie, maar met beter beheer.
Wat teken hulle: Eenvoudige prente soos “mensies” (kop met bene), sonne, huise en kruise.
Wat leer hulle: Simboliese denke (“Hierdie sirkel is Mama”) en storievertelling deur teken.
4 tot 5 jaar
Hoe hou hulle vas: Driepuntgreep (potlood tussen duim en wysvinger, ondersteun deur middelvinger).
Wat teken hulle: Prente met gesigte, liggame, kleure en herkenbare voorwerpe.
Wat leer hulle: Voorbereiding vir skryf, beter fokus, beplanning en selfvertroue.
Belangrik om te onthou
Moenie kinders dwing om ’n “regte” greep te gebruik te vroeg nie. Speel, krabbel en eksperimenteer lê die grondslag vir sterk handjies en ’n liefde vir leer.
Elke krabbel is ’n tree nader aan skryf!
Bytjie Groete!
Besige Bytjie Akademie


Comments